Eina

“Ek is jammer,” wil ek vir haar sê. Sy het so pas ‘n wreed sarkastiese opmerking teenoor my gemaak, meesterlik gemik op ‘n persoonlike teerpuntjie.

“Ek is deel van die bestuursgroep wat die aanvallige blondine eerder as jou aangestel het, en dit na al die ekstra ure en dae se onbetaalde werk wat jy gedoen het,” wil ek byvoeg. “Maar ek het nie insae in die besluit gehad nie.”

Ek bly egter stil. Kap ook nie terug na haar nie.

Dis hierdie eienskap wat waarskynlik gemaak het dat sy haar woede op my uithaal. Ek is mos die een wat nie terugslaan nie, die verdraagsame laissez-faire bestuurder in die groep ongenadiglik outokratiese en paternalisties-seksistiese Gauleiters.

“Ek is nie só gemaak nie,” wil ek protesteer. “Ek het gekies om so te word in reaksie op wat met my gebeur het, eerder as om verbitterd te raak.”

Weer bly ek stil.

Advertisements

Mense se kleinode

Gister wag ek om ‘n ou vriend vir middagete te ontmoet by die nuwe Rocket 88, die Groenkloof Slaghuis in Pretoria se “bar and braai” (soortgelyk in konsep as Maders Slaghuis s’n). Om die tyd te verwyl stap ek toe na die hospitium (“hospice”) se winkel oorkant die straat.

Nou, doodeerlik, die plek is gevul met gemors, hoewel die boeke-afdeling wel ‘n besoek regverdig. Mens wonder hoekom. Skenk mense net gemors? Word die beter kwaliteit ware na handelaars gekanaliseer? Word dit gegaps?

Hoe dit ookal sy, sien mens sulke grepies uit mense se lewens – ‘n bierbeker aan iemand geskenk deur ‘n organisasie vir diens gelewer, ‘n rolbaltrofee, stukkende ou sout- en peperpotjies uit hout gekerf.

Gister sien ek hierdie skulpe wat op ‘n bord gemonteer is. En ek dink aan die mens wie s’n dit was en watter kleinood dit waarskynlik vir haar (?) was. Die herinneringe aan ‘n strandvakansie wat dit moes verteenwoordig het – die liefde en moontlike hartseer daaraan verbonde.

Diegene van julle wat stories skryf, mens kan nogal inspirasie put uit ‘n besoek aan so ‘n plek.Droom

Nog ‘n seder het geval in Estcourt

Estcourt sit so op die grens tussen die doringveld en grasveld. Ry jy Weenen se kant toe, raak dit al hoe ruier. Boere van elders spot dat die beeste daar wild loop en jy een moet skiet as jy wil slag.

Berg se kant toe word die doringbome al hoe minder en verdwyn naderhand. Dis ‘n wêreld wat jou “Groen is die land van Natal” wil laat sing. Daar word daar fluks met mielies en ander gewasse geboer.

Daar is heelwat stamgebiede in die nabye omgewing. In die ou dae het die mense van daar af aan die einde van die maand na Estcourt en omliggende dorpe gestroom om inkopies te doen. Baie van die vrouens was dan in tradisionele drag geklee.

Daar het gereeld stamgevegte na Weenen se kant toe uitgebreek. Dan het die lugmag polisiemanne met Puma helikopters ingevlieg om vrede af te dwing.

Ek was in die laerskool in die nabygeleë Colenso toe so ‘n helikopter op die rugbyveld kom land het om polisiemanne op te pik.

In daardie dae het die stamme mekaar geslag, nie die blankes nie. Sedertdien het dinge verander. Weenen was op ‘n stadium ‘n slagveld. Estcourt ook. Een van die ou families in die gebied, die Greens, is swaar getref. In Desember 2007 is mnr. Dave Green (70) vermoor. Die afgelope Sondag is mnr. Stick Green (69) ook vermoor.

Hierdie is nie skuim-om-die-mond Sunette Bridges of Steve Hofmeyer tipes nie. Hulle is deel van ‘n groep mense wat beter Zoeloe praat as baie Zoeloes. Hulle leef na aan die natuur en betoon die grootste respek aan hulle arbeiders en omliggende gemeenskappe. Om die waarheid te sê, dis asof dit die boere is wat die meeste vir omliggende gemeenskappe doen, wat vermoor word.

Ja, mens moet perspektief behou. Dis nie net boere wat vermoor word nie. Weerlose swart oumensies word vir hulle bietjie pensioengeld vermoor. Soms vir minder. Maar die feit dat die lewe so goedkoop geraak het in hierdie mooie land, asook boere veral se kwesbaarheid, is ‘n bitter pil om te sluk.

Skinderhoekies

Nou ja, daar het ek die waarde van WordPress besef, naamlik dat dit ‘n lekker skinderplek kan wees, waar jy diegene wat Facebook vriende met jou is kan bespreek. Net jammer daar is nie veel wat dit gaan lees nie.

Ek bedank onlangs ‘n vriend vir gasvryheid betoon. “Dit was lekker om jou hier te hê,” antwoord hy. “Jy moet tog naby ons kom aftree.”

Slaan ek amper bolmakiesie. Aftree? Wie de duiwel praat van aftree op vyftig (ek bereik ook in 2015 daardie jeugdige ouderdom)?

Maar nou ja, as jy aan eindelose Faceboek groepe behoort wat nostalgies is oor die verlede, asof die lewe daar opgehou het (dienspligjare, veteraanmotors, verslane en verslae Afrika-kolonialiste), hoe dan anders?

Dit was mos Oscar Chalupski (kanovaarder, ensovoorts) wat gesê het: “Fifty is the new twenty.”

Die gemiddelde ouderdom van mans wat die Comrades maraton voltooi is vier-en-veertig. Die voorbeelde van middeljarige uitskieters is legio.

Regtig: GET A LIFE!

Blommetjies

Die laaste gedig

Nou ja, ‘n gedig veronderstel skryfwerk wat dig, oftewel soos kondensmelk, is. Dis gekonsentreerd en suggereer dikwels meer as wat dit sê. Hier, my laaste een, vir die tussentyd…

Dolosgooi

Die gooi dui onteenseglik daarop
dat wense waarheid word:
die dolos eenkant in die stof
is die donker wolk wat boepens dans;
hierdie twee is julle,
tussen wie se oë
swart weerlig bly blits.

©Josef, 2014.

Goeie môre, goeie middag, goeie naand!

Het enige van julle al ooit die behoefte gevoel om te integreer? Dis nou om oral openlik dieselfde mens te wees – nie een op Facebook, ‘n ander op ‘n blog, ‘n ander by die werk ensomeer nie.

Ek dink dit word makliker om so te maak wanneer jy ouer word en ‘n veer begin voel vir wat ander dink.

Hoe dikwels is mens se lewe nie ‘n show nie.